Nigerië: Minister se ma ontvoer
2012-12-11 08:40
Abuja – Die 82-jarige ma van Nigerië se minister van finansies en voormalige direkteur van die Wêreldbank, Ngozi Okonjo-Iweala, is uit haar huis in die suide van die land ontvoer.
"Vroeër vandag is prof. Kamene Okonjo...ma van die minister van finansies, dr. Ngozi Okonjo-Iweala, uit haar huis in Ogwashi-Uku in die Delta-staat ontvoer," het die ministerie van finansies Sondag in 'n verklaring gesê.
"In hierdie stadium is dit moeilik om te sê of die mense wat vir die aksie verantwoordelik is, dieselfde mense is wat onlangse dreigemente teen die minister gemaak het," het die verklaring gelui.
Okonjo-Iweala is onder kwaai druk om korrupsie in haar land uit te wis. Ontvoerings kom algemeen in die Delta-streek voor, maar hoë-profiel slagoffers word nie gewoonlik geteiken nie.
Intussen het Okonjo se familie 'n pleidooi aan die ontvoerders gerig om die 82-jarige vry te laat aangesien haar gesondheid nie goed is nie.
Volg
Nuus24 op Twitter.
- AP