Newtown-skieter was stil, skaam
2012-12-15 11:36
Video - Oorlewende vertel van skietery
Een van die leerders wat 'n skietery in Newtown, Connecticut oorleef het, vertel meer van die aanval by sy skool.
KYK
Newtown, Connecticut – Terwyl inwoners van Newtown in Connecticut Saterdag steeds probeer het om die treurspel te verwerk wat hom by 'n skool in die dorp afgespeel het, het meer inligting oor die skieter wat 20 jong kinders en ses onderwysers se lewens geneem het, stadig aan die lig gekom.
Die polisie het nog nie amptelik bevestig dat Adam Lanza, 20, die skieter was nie, hoewel mediabronne oor die wêreld heen berig dat hy die jong man is wat Vrydag ná die skietery by die skool sy eie lewe geneem het.
Lanza was volgens twee voormalige klasmaats 'n skaam en buitengewoon intelligente student.
Hy het gewoonlik meer formeel aangetrek as sy mede-leerders by die Newtown-hoërskool, en was gereeld te sien in kakiebroeke en toeknoophemde, het Tim Arnone, 'n oud-klasmaat, gesê.
Arnone en Lanza was lede van die skool se oudio-visuele klub, en het in vry periodes dikwels videospeletjies gespeel in die skool se televisie-ateljee.
"Ons het dit die tegnologieklub genoem. Ons het ons eie klein deel in die kamer gehad," het Arnone, 20, aan die nuusagentskap Reuters gesê.
Hy het gesê Lanza se ouers, veral sy ma, het baie druk op hom geplaas om akademies te presteer.
"Sy het hom baie hard gedruk om harder te werk en slimmer te wees in die skool," het Arnone gesê.
Nancy Lanza en haar man, Peter Lanza, het in 2008 geskei. Peter Lanza kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Dan Holmes, 'n landskapkunstenaar van die omgewing, het Nancy Lanza as 'n entoesiastiese vuurwapen-versamelaar beskryf. Sy het een keer 'n "duur" aanvalsgeweer aan hom gewys.
"Sy het gesê sy gaan skiet gereeld teiken saam met haar kinders," het hy gesê.
Sy was "baie vriendelik, baie aangenaam en het ons werk altyd baie waardeer," het Holmes gesê.
'n Ander voormalige klasmaat, wat nie sy identiteit bekend wou maak nie, het Lanza as 'n slim student beskryf, maar het gesê hy het nie baie vriende gehad nie.
"Hy was 'n baie stil kind," het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters