New York verwelkom Nuwejaar in styl
2011-01-01 07:39
New York – Sowat ‘n miljoen mense het op die 31ste Desember in New York se Times Square saamgedrom om die begin van 2011 te vier.
Dié feesvieringe het plaasgevind te midde van 'n groot polisieteenwoordigheid.
Die partytjie was een van die grootste in die wêreld om die nuwe jaar in te lui, en het gewentel rondom die stadige val van ‘n glinsterende bal van ses ton met sowat 32 256 liggies en 2 688 Waterford-kristalle.
Munisipale werkers het net genoeg tyd gehad om hope sneeu te verwyder wat steeds in die strate gelê het ná ‘n sneeustorm die stad vroeër die week getref het. Die weersomstandighede tydens die partytjie was egter relatief goed.
Die New Yorkse polisie was oral te sien, en het spesifiek gefokus op die voorkoming van terreur-aanvalle.
Raymond Kelly, die polisiehoof, het gesê hoewel daar "geen spesifieke bedreiging vir die stad was vir Nuwejaar nie, teen-terririsme-maatreëls altyd in werking gestel word wanneer groot groepe mense byeenkom."
Polisielede in uniform is bygestaan deur lede wat sonder uniform gewerk het, sowel as helikopters en skerpskutters op omringende geboue.
"Ons doen alles in ons vermoë om die stad te beskerm, maar daar is baie daar buite wat onbekend is," het Kelly gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP