New York steier onder Sandy-skaderekening
2012-11-27 10:16
New York – Die superstorm Sandy sal New York meer as $42 miljard (sowat R371 miljard) kos, het Andrew Cuomo, goewerneur van New York, Maandag gesê.
Cuomo het ook by die regering gepleit vir noodfondse.
Die goewerneur het tydens ‘n mediakonferensie gesê dat Sandy se impak in sekere aspekte erger as Orkaan Katrina s’n was.
Hoewel Katrina se dodetal van 1 833 baie hoër as Sandy se 110 is, is die skade aan eiendomme en ondernemings baie erger weens die storm in New York, het Cuomo gesê.
Die totale skade vir New York en die naburige New Jersey beloop volgens Cuomo $62,61 miljard (sowat R539 miljard).
In New York alleen beloop die herstelkoste $32,8 miljard (sowat R290 miljard) met nog $9,1 miljard (sowat R80 miljard) wat aan voorkomende maatreëls bestee sal word.
Cuomo meen dié skade is te veel vir New York om self te betaal, en het by die regering gepleit vir noodfondse.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP