Net een hond elk in Sjanghai
2011-05-16 08:32
Sjanghai – Die inwoners van China mag nou net een hond per gesin aanhou.
Dié wet het Sondag in werking getree en dit was ’n geskarrel om die meer as 600 000 ongelisensieerde honde in die stad te registreer.
Inwoners met meer as een hond moes hul honde laat registreer, en voortaan sal niemand toegelaat word om meer as een hond aan te hou nie.
Die wet bepaal ook honde moet ’n halsband hê en dat eienaars wat hul honde mishandel of verwerp, strawwe boetes opgelê sal word.
Die grootste stad in China wil beheer kry oor hondsdolheid en sy groeiende bevolking.
Cao Yi, ’n inwoner van Sjanghai wat twee honde besit, sê sy is bekommerd dat een van haar honde weggeneem gaan word. Sy sê dit was te duur om haar honde te registreer.
Registrasiekoste is egter ingevolge die nuwe wet verlaag.
Die stad hou gereeld klopjagte vir ongelisensieerde honde, maar volgens CNN versteek die eienaars hul honde of stuur hulle die honde na familie totdat die klopjagte verby is.
“Baie van my vriende registreer nie hul honde nie, omdat hulle sê die honde gaan nie buitentoe nie,” het Yi gesê.
Volgens die polisie in Sjanghai is dié wet noodsaaklik met meer as 2 500 mense in China wat jaarliks aan hondsdolheid sterf.
“Ek is tevrede met die nuwe wet, want dit herinner jou om verantwoordelik te wees vir jou hond en om nie ander mense te steur nie,” sê Tang Jinyao, ’n 28-jarige honde-eienaar van Sjanghai. – Sapa-AP
- Die Burger