Nege sterf ná ontploffing in Jemen
2011-05-05 16:47
Sanaa – Altesaam vier landsburgers en vyf soldate is dood nadat ‘n bom in ‘n militêre voertuig in die suide van Jemen ontplof het.
Die vyf soldate is tydens die ontploffing dood terwyl die burgers in die daaropvolgende skietery gesterf het.
Die ontploffing het ‘n voertuig wat naby ‘n besig mark was, getref.
“Ons het die geluid van ontploffings gehoor en gesien hoe vuur by die motor uitkom. Die soldate het op die grond gelê,” het Ali Dahmash, ‘n ooggetuie, gesê.
Die paniekbevange oorlewende soldate het in die lug begin skiet. Ander soldate het ook na die toneel gehardloop.
Vier landsburgers is by die mark in die skietery doodgeskiet, het Dahmash gesê. Volgens hom is meer as 20 ander burgers gewond.
Die ontploffing het in die dorp van Zinjibar gebeur. Dié dorp se provinsie is bekend daarvoor om ‘n vesting vir Moslem-rebelle, insluitende Al-Kaïda, te wees.
Militêre beamptes sê hulle weet nie wie die aanvallers was nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP