Nege sterf in ontploffing by Chinese aanleg
2011-04-14 12:57
Beijing – Minstens nege mense is dood nadat ‘n ontploffing by ‘n chemiese aanleg in die noordooste van China gebeur het, het plaaslike beamptes gesê.
Die nuusagentskap Xinhua berig dat ‘n ontploffing en brand Woensdagoggend by ‘n drie-verdieping-gebou by die chemiese aanleg Fuxing in Daqing, China, plaasgevind het.
Volgens plaaslike regeringsbeamptes was daar veertien mense in die gebou toe die ongeluk gebeur het, het die berig gesê.
Altesaam nege mense is op die toneel dood terwyl die ander vyf mense daarin geslaag het om te ontsnap.
Die brand is geblus, maar die oorsaak van die ontploffing moet nog ondersoek word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP