Nefie van Fort Hood-skieter praat
2009-11-06 22:25
Washington – Nader Hasan, die nefie van die weermag-psigiater wat 13 mense doodgeskiet het in Fort Hood, het sy skok oor die voorval uitgespreek.
Majoor Nidal Malik Hasan (39) is ‘n Moslem psigiater wat sy opleiding in die weermag ontvang het en spesialiseer in oorlog-verwante stres.
“Ek wil graag namens my familie ‘n verklaring maak,” het Nader Hasan aan die Washington Post geskryf.
Die skieter se ouers is klaarblyklik oorlede, dus verteenwoordig sy nefie die gesin.
“Ons is geskok en bedroef deur die afgryslike gebeure wat by Fort Hood plaasgevind het.”
“Ons stuur aan familielede van die slagoffers ons innige simpatie.”
Volgens Nader Hasan was sy nefie ‘n burger van die VSA, “gebore en geskool in die VSA”.
“Ons familie is lief vir Amerika”
“Ons is trots op ons land en betreur die gebeure in Fort Hood.”
“Die situasie is nog te onduidelik op die stadium vir enige verder kommentaar.”
Hasan het verder meegedeel dat sy nefie glad nie gehou het van die idee om Afghanistan of Irak toe te moet gaan nie.
Hy was bereid om enigiets wetlik te doen om dit te vermy en het blykbaar ‘n prokureur aangestel om sy kontrak in die leër vroeër te beeindig.
- Sapa