Nederlandse minister kap inligtingswet, midaad in SA
2011-11-28 09:00
Den Haag – Die Nederlandse minister van buitelandse sake, Uri Rosenthal, is bereid om ’n parlementêre mosie teen misdaad en die uitkalwing van persvryheid in Suid-Afrika te steun.
Dít volg nadat die onderminister, Ben Knapen, verlede week laat blyk het sy regering is nie gewillig om sy Suid-Afrikaanse eweknie oor die epidemiese plaasmoorde te spreek nie.
Die mosie is Saterdagaand in die Tweede Kamer (laerhuis) van die parlement ingedien deur Kees van der Staaij, leier van die Staatkundige Gereformeerde Party (SGP). Dié party, ’n uiters ortodokse Protestantse party, is met sy twee setels uit 150 die kleinste in die Tweede Kamer.
Weens die regering se klein meerderheid (’n enkele setel) speel die SGP egter ’n rol wat aansienlik belangriker is as sy getalle.
In sy toespraak tydens die begrotingsdebat oor buitelandse sake het Van der Staaij gesê Suid-Afrika het te doen met “buitensporig baie geweldsmisdade” wat sowel wit as swart tref.
“Dit bly altyd moeilik om ’n patroon (van etniese suiwering) te bewys, maar die problematiek rondom dié groep, die wittes, is in ieder geval groot. Oudpres. FW de Klerk het onlangs selfs van ’n nuwe vorm van apartheid gepraat, maar nou teenoor wittes.”
Van der Staaij het bygevoeg: “My vraag aan die minister is: Doen die Suid-Afrikaanse regering wel genoeg hierteen? Word hy vanuit Nederland, vanuit die internasionale gemeenskap, hieroor aangespreek?
“Hoe kan Nederland die Suid-Afrikaanse owerheid help as dit gaan om voorkoming, opsporing, regsondersteuning, anti-diskriminasiemaatreëls, ensomeer?”
Van der Staaij het voorts ’n mosie ingedien wat aanstaande Dinsdag voor die parlement sal dien.
Daarin neem hy kennis van die gewelddadige misdaad en die “uitholling” van persvryheid, en versoek die regering om te kyk hoe hy Suid-Afrika kan bystaan op die terreine wat hy in sy toespraak genoem het.
In sy antwoord het Rosenthal die standpunt van die onderminister verlede week herhaal dat die Suid-Afrikaanse regering self hard teen gewelddadige misdaad veg, maar hy het verder gegaan. Hy is bereid om Van der Staaij se mosie te “omhels”, het hy gesê.
Dit beteken die mosie sal aanstaande Dinsdag waarskynlik deur ’n meerderheid van die Tweede Kamerlede gesteun word. Die houding van die linkse opposisiepartye is in dié stadium onbekend, maar sal Dinsdag blyk.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad