Nederlandse kerk ál vrysinniger
2010-03-08 08:39
Leopold Scholtz
Den Haag – Die Nederlandse Protestantse Kerk (PKN) word klaarblyklik al hoe vrysinniger, blyk uit ’n peiling van ’n Nederlandse kerknuusagentskap, Ikon Kerknieuws.
Luidens die peiling kan twee derdes van die predikante in die PKN hulle nie meer heeltemal met die tradisionele Calvinistiese teologie, soos vervat in die Dordtse Leerreëls, vereenselwig nie.
Die PKN het in 2004 tot stand gekom toe die Nederlandse Hervormde Kerk, die Gereformeerde Kerke van Nederland en die Nederlandse Evangelies-Lutherse Kerk saamgesmelt het.
Dit blyk dat twee derdes van die predikante wat aan die peiling deelgeneem het, nie meer aan die uitverkiesingsleer glo nie.
Luidens dié leer bepaal God wie in Hom glo en gered sal word, maar die betrokke dominees meen die mens bepaal self of hy of sy wil glo of nie.
Bowendien meen iets meer as die helfte dat die Dordtse Leerreëls, een van die Drie Formuliere van Enigheid (die ander is die Heidelbergse Kategismus en die Nederlandse Geloofsbelydenis), nie ’n onmisbare onderdeel van die Calvinistiese belydenisskrifte is nie.
Ook meen 90% van die predikante dat die belydenisskrifte menslike geskrifte is en dat debat dus daaroor gevoer mag word.
Die aanleiding vir die peiling was dat die teoloog Jacobus Arminius verlede jaar op 19 Oktober presies 400 jaar gelede oorlede is.
Arminius (1559-1609) was ’n vrysinnige Nederlandse teoloog wat die uitverkiesingsleer verwerp het. Die Dordtse Leerreëls is daarop in 1618 deur die Sinode van Dordrecht aanvaar, en daarmee het die uitverkiesingsleer die amptelike Calvinistiese standpunt geword.
Die verslag oor die peiling kom dan ook tot die gevolgtrekking dat twee derdes van die PKN-dominees “meer Arminiaans as Calvinisties” is.
- Die Burger