Nederlanders verklaar oorlog teen inbrekers
2011-06-08 08:13
Den Haag - ’n Burgerlike-samelewingsorganisasie in Nederland het besluit om oorlog teen inbrekers te verklaar. Van vandag af gaan die Vereniging Eigen Huis (VEH) – wat huiseienaars raad gee oor alles en nog wat rakende huisbesit – foto’s van inbrekers op sy webwerf plaas.
Die foto’s is geneem in huise waar ingebreek is en waar outomatiese kameras die inbrekers afgeneem het. Die vereniging het in ’n verklaring gesê die foto’s moet saam met die verklaring wat die betrokke huiseienaar voor die polisie afgelê het, asook die saaknommer, ingestuur word.
Nederland beleef nou ’n ongekende vlaag inbrake by private huise. Volgens die VEH het byna 80 000 private wonings in 2010 onder inbraak deurgeloop, wat neerkom op een elke nege minute.
Dit is ’n toename van 8% vergeleke met 2009. Vanjaar se syfers is tot dusver al weer hoër as verlede jaar s’n.
Die inbrake gebeur meestal as die inwoners weg is.
- Volksblad