Nederlander wil SA straatname hou
2012-03-29 09:06
Den Haag – Die ANC se plan om 27 Pretoriase straatname te hernoem het gister tot in die Nederlandse parlement weerklink.
Martin Bosma, parlementslid van die regse Partij voor de Vrijheid (PVV), het daarteen beswaar gemaak en vrae aan die onderminister van onderwys, kultuur en wetenskap, Halbe Zijlstra, gestel.
In ’n verklaring het Bosma gesê die 27 straatname herinner aan die anti-koloniale stryd van die Boererepublieke teen Engelse oorheersing.
Koningin Wilhelminalaan “is ’n ode aan die jong koningin wat in 1900 die pantserskip Gelderland gestuur het om pres. Paul Kruger te ontset”.
Die Nederlandse ambassade in Pretoria, wat in dié straat geleë is, moet weier om ’n nuwe naam te gebruik, meen hy.
Hy het ook Voortrekkerweg genoem, wat “herinner aan die afstammelinge van onder andere Nederlandse immigrante wat Pretoria gestig het”.
“Dié gedeelde Nederlands-Afrikaner-geskiedenis dreig om verder uitgewis te word.”
Bosma het Zijlstra gevra of hy ook vind dat die plan om die name Beatrixstraat en Koningin Wilhelminalaan te verander “’n klap is in die gesig van die Majesteit, ons koninklike familie en van Nederland”?
Hy wou weet of die kulturele erfenis van die Boererepublieke, waar Nederlands die amptelike taal was, verdedig moet word deur die Nederlandse ambassadeur, en indien wel, welke aksie van die ambassadeur verwag kan word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger