Nederland vrees ook onluste
2011-08-15 13:34
Den Haag – Die polisie in die Nederlandse stad Rotterdam sê hulle het tientalle mense uitmekaar gejaag te midde van vrese van moontlike onluste.
Die groep het bymekaar gekom by die plek waar polisiebeamptes ‘n kriminele verdagte geskiet het.
Volgens Henk van der Velde, ‘n woordvoerder, het die polisie Sondag die mense uitmekaar gejaag nadat die groep in ‘n buurt in die suide van die stad saamgedrom het.
Hy sê die polisie het die groep gekonfronteer nadat hulle geweier het om die plek te verlaat.
Volgens Van der Velde is niemand in hegtenis geneem nie.
Die verdagte wat geskiet is, is besig om in ‘n hospitaal te herstel. Hy is self ‘n verdagte in ‘n skietery.
Die Nederlandse polisie is op die uitkyk vir soortgelyke onluste wat vandeesmaand in Brittanje uitgebreek het.
Die polisie in Rotterdam het Saterdag ‘n man in hegtenis geneem nadat die man na bewering boodskappe van sy selfoon gestuur het wat onluste aangehits het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP