Nederland steun Afrikaans in mosie
2011-12-05 08:03
Den Haag – Die kans is goed dat die Interparlementêre Komitee (IPK) van die Nederlandse Taalunie Maandag ’n mosie aanvaar om die posisie van Afrikaans aan twee Suid-Afrikaanse universiteite te ondersteun.
Die voorsitter van die Interparlementêre Komitee, Martin Bosma, het Sondag in ’n verklaring gesê hy gaan die mosie, medeonderteken deur vier ander Nederlandse parlementslede van verskillende partye, vandag indien.
In die mosie word verwys na die Gerwel-verslag van 2001, waarin aanbeveel word dat minstens twee universiteite die spesiale taak kry om Afrikaans as akademiese taal te beskerm.
(Die aanbeveling het destyds in ’n laai verdwyn en is nooit uitgevoer nie.)
“Daarom rig die IPK ’n versoek aan die Komitee van Ministers en die Nederlandse Taalunie om binne hul moontlikhede dié strewe aktief te ondersteun.”
Bosma is ’n parlementslid van die Partij voor de Vrijheid (PVV), die mees regse party in die parlement. Maar hy het dit reggekry dat ook die handtekeninge van Jacques Biskop van die gematig-konserwatiewe Christen-Democratische Appèl (CDA), Boris van der Ham van die links-liberale Democraten ’66 (D’66), Pauline Smeets van die gematig-linkse Partij van de Arbeid (PvdA), asook Harm Beertema (partygenoot van Bosma) onder die mosie verskyn.
In sy verklaring sê Bosma as die Vlaamse partye in die IPK ook iets in die mosie sien, sal dit vandag aanvaar word.
Hy verwys spesifiek na Stellenbosch, waar “Afrikaans steeds meer onder druk te staan kom”. Hy sê as Afrikaans wil oorleef, moet dit ’n universitêre taal bly, anders word dit nog verder gemarginaliseer.
“Die mosie moet ’n riem onder die hart wees vir iedereen wat moeite doen vir Afrikaans. Dis uitstekend dat die mosie só breed ondersteun word.”
Die kans is uitstekend dat die Vlaamse lede van die IPK die mosie sal steun, gesien die algemene simpatie vir Afrikaans in Vlaandere.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger