Nederland jammer oor massamoord in '47
2011-12-06 09:01
Den Haag – Die Nederlandse regering gaan Vrydag by monde van die land se ambassadeur in Indonesië amptelik ekskuus vra vir ’n massamoord wat Nederlandse soldate in 1947 in die Indonesiese dorpie Rawagade gepleeg het.
Op 9 Desember 1947, toe die Indonesiese Vryheidsoorlog teen die Nederlandse koloniale besetting op sy hoogtepunt was, het Nederlandse soldate Rawagade binnegeval. Hulle was op soek na “terroriste” en het alle mans in die dorpie byeengedwing en binne ’n uur of wat 431 van hulle doodgeskiet.
Die VN het die saak in 1948 ondersoek en bevind dat die optrede “opsetlik en meedoënloos” was. Dit was egter eers in 1969 dat ’n linkse TV-stasie die saak in Nederland oopgevlek het, en toe het die regering verklaar dat “ongeveer 20 mense” tereggestel is.
’n Gewilde oggendblad, De Telegraaf, het die dokumentêre program destyds heftig aangeval.
In 1995, 2007 en 2008 het verdere dokumentêre TV-programme die volle omvang van die bloedbad aan die kaak gestel. Daarop het die inwoners van Rawagade ’n hofsaak teen die Nederlandse regering begin.
In September vanjaar het die regbank geoordeel dat die Nederlandse staat verantwoordelik gehou en gedagvaar kan word vir skadevergoeding.
Die regering se verweer, dat die saak verjaar het, is van die hand gewys.
Nederland het daarop sowat R9 miljoen aangebied vir ontwikkelingshulp vir Rawagade. Nege naasbestaandes van die oorledenes sal elk sowat R220 000 kry.
Die dorp is intussen hernoem en heet nou Balongsari. Dit is op die eiland Java, sowat 100 km oos van die hoofstad, Djakarta, geleë.
Die nuusberigte oor die saak die laaste weke was feitelik en onemosioneel.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger