Nederland: Mosie oor SA verwerp
2011-11-30 09:05
Den Haag – Tot skok van die voorsteller het die Nederlandse parlement Dinsdagmiddag ’n mosie van kommer oor die situasie in Suid-Afrika afgestem.
Die mosie is verlede week tydens die begrotingsdebat oor buitelandse sake deur Kees van der Staaij, leier van die klein Staatkundige Gereformeerde Party (SGP), ingedien.
Die verwagting was dat die mosie aanvaar sou word, aangesien die minister van buitelandse sake, Uri Rosenthal, in sy antwoord te kenne gegee het dat hy die mosie “omhels”.
Geen debat is Dinsdag gevoer nie. ’n Aantal mosies wat verlede week ingedien is, is Dinsdag tot stemming gebring, waaronder die een van Van der Staaij.
In sy mosie het Van der Staaij gevra die parlement moet kennis neem van die gewelddadige misdaad en die uitholling van persvryheid. Die regering is versoek om te kyk hoe hy Suid-Afrika kan bystaan met die voorkoming van misdaad, die opsporing van misdadigers, regsondersteuning, en anti-diskriminasiemaatreëls (’n bedekte verwysing na regstellende aksie).
’n Meerderheid van die parlement het die mosie verwerp.
Die linkse opposisie het daarteen gestem, maar ook die gematig-regse partye in die regerende koalisie, die liberale en die Christen-Demokrate. Redes vir die partye se verwerping van die mosie is onbekend.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger