Navo-troepe dood in selfmoordaanval in Afganistan
2012-10-01 12:45
Khost – Minstens 14 mense, insluitend drie lede van 'n Navo-sekerheidsmag en ‘n tolk, is Maandag in ‘n selfmoordbomaanval op lede van 'n Navo- en Afgaanse sekerheidsmag dood, het beamptes gesê.
Vier Afgaanse polisielede en ses burgerlikes is ook dood en 37 is beseer in die aanval naby ‘n mark in die oostelike stad Khost, het die provinsiale goewerneur se kantoor gesê.
Rebelle van die Taliban het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar.
“’n Selfmoordbomaanvaller op ‘n motorfiets het vandag (Maandag) omstreeks 08:30 (04:00 GMT) ‘n gesamentlike patrollie in ‘n besige deel van Khost geteiken.
“Drie polisielede en 37 burgerlikes is beseer in hierdie onmenslike aanval en ses burgerlikes en vier polisiebeamptes, insluitend ‘n bevelvoerder, is dood,” het die goewerneur se kantoor in ‘n verklaring gesê.
Volgens bronne by ‘n hospitaal is 10 Afgane dood en meer as 60 beseer.
Navo se Amerikaans-geleide internasionale veiligheidsbystandsmag (Isaf) het bevestig dat drie Navo-lede en ‘n tolk van Isaf dood is in die aanval.
Die Taliban het op sy webwerf gesê die selfmoordbomaanval is deur ‘n “heldhaftige mujahid, Shohaib, van Kunduz,” uitgevoer en het beweer dat agt buitelanders en ses Afgaanse soldate dood is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP