Navo geteiken in Taliban-aanval
2011-09-13 17:59
Kaboel – Die Taliban het ‘n grootskaalse aanval op die hoofkwartier van Navo se koalisiemagte in die Afgaanse hoofstad geloods.
Volgens die Taliban is die aanval op die militêre hoofkwartier begin met ‘n selfmoordaanval wat plaaslike en buitelandse intelligensiedienste in Kaboel geteiken het.
Verslaggewers in die stad het ‘n reeks harde knalle gehoor en die polisie het een ontploffing en ‘n geweergeveg buite die Navo-gebou bevestig.
“’n Massiewe selfmoordaanval is vandag om 13:00 by die Abdul Haq-verkeersirkel op plaaslike en buitelandse intelligensiedienste geloods,” het ‘n woordvoerder van die Taliban, Zabiullah Mujahid, in ‘n selfoonboodskap gesê.
‘n Westerse militêre bron het gesê Navo se internasionale veiligheidsbystandsmag (Isaf) se hoofkwartier was een van die teikens.
Volgens ooggetuies het die aanvallers in ‘n hoë gebou, waaraan bouwerk gedoen word, wat naby die hoofkwartier is geskuil en van hier op veiligheidsmagte geskiet.
Die Amerikaanse ambassade het geen verdere inligting oor die voorval gehad nie.
Die Taliban lei ‘n tien jaar lange opstand in Afganistan en daar is tans meer as 140 000 buitelandse troepe in die land.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP