Naked Cowboy wil president word
2010-10-05 13:38
New York – Pasop Sarah Palin. Daar is ‘n nuwe lid van die Konserwatiewe Party wat (amper) kaal is en reguit op die Withuis afpeil.
Die Naked Cowboy, ‘n kitaarspeler en bekende op Times Square wat graag in sy onderbroek, hoed en stewels optree, het gesê dat hy gewone klere sal aantrek vir sy volgende avontuur: wanneer hy homself vir president wil beskikbaar stel.
Robert John Burck het op sy webwerf Nakedcowboy.com bekendgemaak dat hy gaan deelneem aan die 2012 Amerikaanse presidensiële verkiesing.
“Amerika kort ‘n president wat in Amerika glo. Amerika, ek sal baklei om die mag weer terug te gee aan die mense,” het Burck, ‘n 40-jarige lid van die Konserwatiewe Party, op sy webwerf gesê.
“Amerika het ‘n president nodig wat sal opstaan vir Amerika en wat sy taal, grense en die belangrikste, sy kultuur, sal beskerm.
“Wat Amerika nodig het is ‘n president wat daarna streef om die mense te bemagtig en om die vrye mark toe te laat om waarde te bepaal. Nie ‘n president wat daarop gemik is om regerings te bemagtig nie.
Die Cowboy het in 2009 ‘n onsuksesvolle poging aangewend om vir burgemeester van New York te staan.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA