Nagklub-brand: Drie in hegtenis
2013-01-28 17:56
Santa Maria, Brasilië – Brasilië het drie dae van nasionale rou aangekondig vir die 231 mense wat vroeg Sondagoggend dood is as gevolg van ‘n brand by ‘n nagklub in Santa Maria.
Die brand het glo begin na ‘n lid van 'n musiekgroep, wat by die Kiss-nagklub opgetree het, ‘n ligfakkel op die verhoog aangesteek het.
Volgens berigte was daar ten tyde van die brand tussen 300 en 400 mense in die nagklub.
Amptenare sê dat die meeste van die slagoffers studente was wat weens rookinaseming dood is.
Drie mense is glo in verband met die voorval in hegtenis geneem, het BBC News berig.
Twee musikante van die Gurizada Fandangueira-grope en een van die klub se eienaars is Maandag deur die polisie in hegtenis geneem.
Dit was die dodelikste brand in amper vyf dekades in Brasilië.
Die plaaslike gymnasium is glo in ‘n tydelike lykshuis omskep.
Die regering het ook ‘n seremonie, wat Maandag gehou sou word, om 500 dae tot die afskop van die 2014 Wêreldbeker-sokkertoernooi te vier, afgestel.
Dilma Rousseff, president van Brasilië, het ‘n besoek aan Chili kortgeknip om van die oorlewendes in Santa Maria se Caridade-hospitaal te besoek.
Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter