NS: Man blaas op soos ballon in fratsongeluk
2011-05-25 15:48
Wellington – ‘n Nieu-Seelandse vragmotorbestuurder het die media vertel van ‘n fratsongeluk waarin sy liggaam soos ‘n ballon opgeblaas het.
Steven McCormack (48) sê sy liggaam het opgeblaas nadat hy gegly het en die klep van die saamgepersde lugtenk wat aan sy voertuig se remme gekoppel is, gebreek het.
Die klep het die vel van sy boud geprik toe hy geval het en veroorsaak dat die saamgepersde lug deur sy liggaam gaan.
“Ek het regtig soos die Michelin-man gevoel,” het McCormack Woensdag aan die nuuskanaal TV3 gesê nadat hy uit die intensiewe sorgeenheid van die Whakatane-hospitaal ontslaan is.
Hy woon in die dorp Opotiki wat op die noord-eiland geleë is.
“My lyf het binne enkele minute twee keer sy grootte opgeblaas,” het hy oor Saterdag se voorval gesê.
“Ek kon net met een oog sien. Ek kon hoor hoe die lug in my liggaam gegaan het, maar mense wou nie naby my kom nie... dit was nie baie mooi nie.”
Sy drie kollegas het hom probeer help maar kon hom nie los kry nie.
“Ek het amper gehuil,” het McCormack gesê. “Ek het gedink as hulle (sy kollegas) nie gou maak nie sal ek dood gaan.”
Paramedici het hom later na die hospitaal geneem waar dokters hom behandel het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA