Mussolini tóé agent vir Britte
2009-10-17 09:22
Korrespondent
Londen. – Die Italiaanse diktator Benito Mussolini het minstens ’n jaar lank midde-in die Eerste Wêreldoorlog as geheime agent vir Brittanje gewerk.
Dr. Peter Martland, ’n geskiedkundige van die Cambridge-universiteit, het dié verrassende stuk geskiedenis opgediep, het die Britse koerant Guardian gister berig.
Luidens die berig wys MI5-dokumente die Britse intelligensiediens het Mussolini £100 per week betaal om pro-oorlog-propaganda te versprei deur middel van ’n koerant waarvan hy die redakteur was.
Die bedrag is gelykstaande aan sowat £6 000 (byna R70 000) in vandag se geldwaarde.
Die kontrak is in 1917 gesluit toe Mussolini ’n 34-jarige joernalis was.
Die groen lig vir sy betaling is gegee deur sir Samuel Hoare, ’n Britse LP en MI5 se verteenwoordiger in Rome, wat aan die hoof gestaan het van sowat 100 intelligensiebeamptes in Italië.
Volgens Martland was Italië destyds Brittanje se onbetroubaarste bondgenoot nadat Rusland hom aan die konflik onttrek het.
Die geskiedkundige is van mening dat Mussolini, ’n berugte rokjagter, waarskynlik die meeste van die geld aan vroue bestee het.
Behalwe om die pro-oorlog-propaganda in sy koerant, Il Popolo d’Italia, te publiseer het Mussolini ook onderneem dat hy oorlogs-veterane sou stuur om met vredesbetogers in Milaan af te reken deur hulle te slaan.
Hoare, wat later Lord Templeton geword het, het die werwing van Mussolini wel in sy biografie van 1954 genoem, maar Martland het op die besonderhede van die ooreenkoms afgekom terwyl hy deur dokumente van Hoare gegaan het.
- Beeld