Murdoch sê wéér jammer
2011-07-17 14:12
Londen – Die mediamagnaat Rupert Murdoch, wat 'n tweede koerantadvertensie gepubliseer het om om verskoning te vra, het beloof dat News Corp. regstellings sal maak vir die afluisterskandaal wat sy wêreldwye mediaryk geruk het.
Dié advertensie wat in verskeie Britse Sondagkoerante verskyn het, sê News Corp. sal die polisie help met sy ondersoek en dat daar "geen wegkruipplek" sal wees vir die skuldiges nie.
Dít volg nadat hy 'n volbladadvertensie in Saterdag se koerante gepubliseer het, wat lui: "We are sorry".
Murdoch het verlede week die 168 jaar oue poniekoerant News of the World gesluit nadat die koerant daarvan beskuldig is dat hy bekendes, politici, ander joernaliste en selfs moordslagoffers afluister.
Sy kritici sê egter dat dít nie genoeg is nie. Ed Miliband, huidige leier van die Arbeidersparty, het gesê Murdoch het te veel mag en dat sy mediaryk opgebreek moet word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA