Murdoch se troon erg aan’t wankel
2011-07-17 07:20
Johannesburg – Die eens gevreesde mediakoning Rupert Murdoch bevind hom toenemend in isolasie namate die skandaal om News of the World (NotW) uitkring.
Die normaalweg hardvogtige Murdoch het gister nederig in ’n volblad-advertensie in Britse koerante om verskoning gevra vir die selfoon-afluistery deur joernaliste van NotW. Hy het ook persoonlik besoek afgelê by die familie van Milly Dowler, die vermoorde skoolmeisie in die kern van die NotW-skandaal.
Joernaliste van NotW het haar familie se selfoonboodskappe onwettig afgeluister en selfs uitgewis.
Murdoch, wat dekades lank vrees by Britse en Amerikaanse politici ingeboesem het, het die familie verskeie kere met die spreekwoordelike hoed in die hand om verskoning gevra.
NotW, Brittanje se grootste koerant, het verlede Sondag vir die laaste keer op straat verskyn nadat Murdoch dit gesluit het in ’n poging om die vlamme te blus.
Maar dit was nie genoeg nie en sy isolasie vererger by die dag. Politici skarrel om hulle van hom te distansieer, sy maatskappy se aandele tuimel en die Amerikaanse FBI ondersoek die moontlikheid dat die koerant probeer toegang kry het tot die telefoonrekords van die 9/11-terreurslagoffers.
Boonop het sy twee grootste vertrouelinge, Rebekah Brooks en Les Hinton, Vrydag bedank. Brooks was redakteur van NotW tydens die Milly Dowler-ontvoering en was die afgelope twee jaar uitvoerende hoof van News International, die Britse afdeling van die Murdoch-mediaryk. Sy is soos ’n dogter vir Murdoch en hy het verlede week nog geweier om haar bedanking te aanvaar.
Hinton het 50 jaar lank saam met Murdoch gewerk en is as sy regterhand beskou. Hy is sedert 2007 die uitvoerende hoof van die Amerikaanse koerant Wall Street Journal, asook die Dow Jones, ’n finansiële nuusdiens.
Hinton was voorheen hoof van News International en het glo in dié tyd geweet Londense polisielede is vir inligting betaal.
Die Britse Guardian-koerant wat die selfoon-afluistery onthul het, skryf Murdoch het Hinton vir die wolwe gegooi ten einde sy Amerikaanse maatskappy, News Corporation, te red. News Corporation besit ’n reeks koerante en televisiekanale, waaronder Fox News.
Nou word daar wyd gegis dat Murdoch selfs sy eie seun James, hoof van Newscorp in Europa en Asië, kan opoffer. Murdoch jr. het vroeër sy goedkeuring gegee dat die stilswye van die selfoon-afluister-slagoffers met geld gekoop word.
Murdoch sr. (80) het intussen ook aangedui hy sal wel (nadat hy eers geweier het) oormôre saam met Brooks en sy seun voor ’n parlementêre komitee verskyn om vrae te beantwoord.
Ál meer vrae word ook gevra oor die Murdoch-groep se noue bande met politici en senior polisielede.
Die Britse premier, David Cameron, is in die spervuur omdat dit nou aan die lig gekom het dat Andy Coulson, ’n voormalige NotW-redakteur, in die plattelandse ampswoning Chequers in Buckinghamshire tuisgegaan het nadat hy as Cameron se mediadirekteur bedank het. Coulson is een van die voormalige NotW-bestuurslede wat gearresteer is.
Sir Paul Stephenson, kommissaris van die Londense metropolisie, is onder druk om te bedank, want hy het Neil Wallis, ’n voormalige adjunkredakteur van NotW, as ’n konsultant aangestel. Wallis is ook aangekeer oor die afluistery.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport