Murdoch se doen en late in soeklig
2011-07-12 08:01
Den Haag – Die Britse openbare aandag het Maandag begin fokus op die doen en late van Rupert Murdoch, grootbaas van die mediamaatskappy News International.
Die maatskappy is die eienaar van die pas geslote Sondag-poniekoerant News of the World, waar die reeks onthullings oor onetiese joernalistieke praktyke Maandag met verdere onthullings opgevolg is.
Murdoch (80) probeer die TV-maatskappy BSkyB, wat vir die kanale Sky News en Sky Sports verantwoordelik is, oorneem.
Verskeie Britse koerante het Maandag berig die minister van kultuur, Jeremy Hunt, gaan kers opsteek by Ofcom, die Britse onafhanklike reguleerder en mededingingsowerheid vir die kommunikasiebedryf, asook die Kantoor vir Regverdige Handel, oor Murdoch se planne.
Hy gaan hulle vra of hulle meen News International gaan ná die onthullings ’n “waardige en geskikte” eienaar van BSkyB wees en of die maatskappy se versekerings oor BSkyB se redaksionele onafhanklikheid geglo kan word.
Hunt se brief word deur die Britse media vertolk as ’n teken dat die koalisieregering die oorname wil verhinder.
- Die Burger