Murdoch-roomgooier beken skuld
2011-07-30 07:38
Londen – Die Britse man wat die mediamagnaat mnr. Rupert Murdoch met ’n skuimtert gegooi het tydens dié se verskyning voor ’n parlementskomitee het gister skuld beken op ’n aanklag van aanranding en die meebring van teistering, onthutsing of angs.
Jonathan May-Bowles (26), ’n komediant, het Murdoch met ’n bord vol skeerroom gegooi toe die 80-jarige baas van News Corporation voor Britse parlementslede verskyn het in die ondersoek na sy maatskappy se telefoon-meeluisterskandaal.
Buite die hof het May-Bowles Murdoch se woorde tydens die verhoor herhaal en aan joernaliste gesê: “Hierdie is die nederigste dag van my lewe.”
May-Bowles, met die verhoognaam Jonnie Marbles, het net in die hof gepraat toe hy sy naam en adres bevestig en toe hy skuld beken het.
Die hof het gehoor dat Murdoch nie ten gunste van die klag van aanranding is nie omdat dit aan die komediant tronkstraf kan besorg.
Die verhoor is tot Dinsdag uitgestel wanneer May-Bowles gevonnis sal word.
May-Bowles het in onderhoude gesê hy het baie respek vir Murdoch se vrou, me. Wendi Deng, wat hom bygedam het.
Hy het sy aanval op Murdoch verdedig en gesê dit “kom nie naby die misdade wat hy as hoof van News International gepleeg het nie”.
– Beeld
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP