Motorbom in Bagdad dood nege
2011-04-18 19:00
Bagdad - Selfmoordbomaanvallers het Maandag twee motorbomme buite Bagdad se goed versterkte “Groen Sone” laat ontplof en minstens nege mense dood en 23 gewond gelaat, het beamptes gesê.
Dié aanval het deel uitgemaak van ‘n gewelddadige dag in die Irakkese hoofstad, waartydens ‘n ander bomaanval en ‘n rooftog van juweliersware nóg twee mense dood en 13 gewond gelaat het.
Die motorbom-aanval buite die “Groen Sone” het kort ná 08:00 (plaaslike tyd) gebeur. Die motors is opgeblaas net buite ‘n kontrolepunt op ‘n besige pad tussen die “Groen Sone” en Bagdad se internasionale lughawe.
Volgens ‘n woordvoerder van die Irakkese weermag in Bagdad, maj. genl. Qassim al-Moussawi, het die aanvallers die motorstoete van twee regeringsbeamptes – een in die kabinet, die ander in die weermag – wat op pad werk toe was, geteiken.
Die ontploffing het sommige motors wat by die kontrolepunt gewag het in vlamme laat uitbars.
Die Irakkese parlement en verskeie buitelandse ambassades is in die “Groen Sone” geleë.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP