Moslems, Britte pak mekaar oor Afganistan
2010-01-07 10:24
Leopold Scholtz
Den Haag - Die nuwe jaar het in Brittanje begin met ’n vuurwarm rusie tussen radikale Moslems en die res van die land.
Die hoofstraat van die slaperige dorpie Wootton Bassett in die graafskap Wiltshire is die gereelde roete waarlangs die kiste met lyke van Britse soldate wat in Afganistan gesneuwel het plegtig vervoer word. Hulle kom meestal by die nabygeleë lugmagbasis Lyneham aan.
Wanneer die lyke deurkom, gaan staan die inwoners van die dorpie langs die straat om die laaste eer aan die gesneuweldes te betoon voordat hulle na hul tuistes geneem word om begrawe te word.
Dit het al ’n ritueel geword wat gereeld op televisie uitgesaai word en mense van oor die hele land vir die seremonie daarheen gelok het.
Dis dié gewyde atmosfeer wat ’n radikale Moslemgroep nou wil ontwrig. Die groep, bekend as Islam4UK onder die leiding van Anjem Choudary, wil leë kiste deur dieselfde hoofstraat gaan dra om teen die oorlog in Afganistan te betoog.
Brittanje het amper ontplof. Binne enkele ure het 500 000 mense ’n aanlyn-petisie onderteken om die betoging te verbied. Selfs Moslem-inwoners van Wootton Bassett is woedend. Baie dreig met geweld as die betoging voortgaan.
’n Woordvoerder van die Britse eerste minister, Gordon Brown, het gesê hy vind die beplande betoging “verfoeilik en aanstootlik”.
Sir Hugh Orde, voorsitter van die Vereniging van Polisiebeamptes, het gesê alle mense het die reg om te betoog, selfs al is hul mening “onaangenaam en aanstootlik”.
- Die Burger