Moslem model se straf uitgestel
2009-08-24 11:46
Maleisië – ‘n Moslem model gaan onder die lat deurloop nadat sy uitgevang is dat sy bier gedrink het.
Die 32-jarige Kartika Sari Dewi Shukarno is verlede maand tot ses houe gevonnis.
Dit maak haar die eerste vrou in Maleisië om hierdie straf onder die Islamitiese wet deur te maak.
Haar straf is wel uitgestel tot na die Moslems se heilige maand van Ramadan.
Sy is Maandag deur geloofsamptenare uit haar familiehuis na Kuala Lumpur geneem, waar sy in aanhouding geplaas is en waar haar straf uitgedien sou word.
Maar na hulle slegs ‘n kort afstand afgelê het is sy onverwags vrygelaat.
“Ek het nie woorde nie,” het Kartika aan verslaggewers gesê en bygevoeg dat die Islamitiese amptenare nie aan haar gesê het of sy later gestraf sal word nie.
“Ek wil weet wat my status is. Ek soek ‘n swart en wit verklaring van hulle.”
Die ma van twee het gesê dat sy reg is om geslaan te word en het geweier om appèl teen haar straf aan te teken.
Sy het geloofleiers uitgedaag en gesê hulle kan haar in die publiek straf.
“Ek weet nie in watse situasie ek is nie, ek het geen idee nie,” het sy gesê.
Sahfri Abdul Aziz, ‘n wetgewer van Pahang wat in beheer is van geloofsake, het gesê dat haar straf uitgestel is tot Ramadan verby is.
- Sapa-AFP