Morgan moet vrae oor afluistering beantwoord
2011-08-05 11:06
Londen – ‘n Senior Britse wetgewer het Donderdag geëis dat die CNN-geselsprogramaanbieder Piers Morgan na Engeland terugkeer om op nuwe aantygings in verband met die afluisterskandaal te reageer.
John Whittingdale, ‘n lid van die Konserwatiewe Party en voorsitter van die parlementêre mediakomitee wat Rupert Murdoch verlede maand oor die afluisterskandaal verhoor het, het gesê Morgan “het baie ernstige vrae om te beantwoord”.
Sy kommentaar volg nadat Heather Mills, eks-vrou van Paul McCartney, op ‘n BBC-televisieprogram beweer het ‘n senior joernalis by ‘n koerant van die Mirror Group het in 2001 erken hy het haar stempos afgeluister.
Die BBC wou nie die joernalis se naam bekendmaak nie, maar het gesê dit was nie Morgan nie, wat in daardie stadium die redakteur van die groep se voorste koerant, die Daily Mirror was.
Morgan het egter na bewering in 2006 in ‘n koerantrubriek erken hy het na ‘n stemposboodskap geluister wat McCartney vir Mills gelos het.
“Ek wil graag hê dat mnr. Morgan na hierdie land terugkeer om baie ernstige vrae wat ons het te antwoord,” het Whittingdale gesê, hoewel sy komitee nie die mag het om Morgan te verplig om na Brittanje terug te keer nie.
“Ek hoop hy sal na die Verenigde Koninkryk terugkeer en ek glo hy sal op grond van die nuwe bewyse wat aan die lig gekom het ‘n paar vrae aan die polisie moet beantwoord,” het Whittingdale bygevoeg.
Morgan, wat tans in New York en Los Angeles vir CNN werk, het die aantygings as nonsens afgemaak en Donderdag op die sosiale netwerk Twitter geskryf: “Dit is so lekker dat almal in die VK my só mis dat hulle wil hê ek moet terugkom huis toe.”
Hy het Woensdag Mills se aantygings in ‘n verklaring as “ongegrond” bestempel en gesê hy is deur die BBC ingelig dat die betrokke joernalis nie ‘n werknemer van die Daily Mirror was nie.
“Ek het nog nooit ‘n stempos afgeluister nie, aan iemand gesê om dit te doen nie, of sover my kennis strek enige storie gepubliseer wat op dié manier verkry is nie,” het die verklaring gelui.
McCartney, 'n voormalige lid van die Beatles, het Donderdag gesê hy sal binnekort die owerhede kontak oor die “gruwelike skending van (sy) privaatheid”.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA