Morgan betrek by luisterskandaal
2011-08-07 07:31
Johannesbug – Die toetrede van die oud-Beatle Paul McCartney tot die meeluister-skandaal in Britse poniekoerante is slegte nuus vir die flambojante CNN-aanbieder Piers Morgan.
Morgan is bekend as die Teflon-man nadat hy verskeie skandale in sy loopbaan as redakteur van twee poniekoerante oorleef het. Hy het daarna internasionaal beroemd geword as ’n TV-persoonlikheid en ontken al weke lank dat hy bewus was van of opdrag gegee het dat daar op foonboodskappe ingeluister word.
Heather Mills, Paul McCartney se eksvrou, het die afgelope week op die BBC se Newsnight beweer haar foonboodskappe is afgeluister deur ’n joernalis in die Trinity Mirror-stal, wat die Daily Mirror, die Sunday Mirror en People uitgee. Morgan was Daily Mirror se redakteur van 1995 tot 2004. Daar is nou sterk druk op Morgan om van New York na Brittanje terug te keer en inligting te gee in die verskeie ondersoeke na die skandaal.
Volgens Mills het ’n senior joernalis in die Trinity-groep in 2001 aan haar erken hy het inligting bekom oor ’n verskoning wat McCartney ná ’n rusie op haar foon gelos het. Mills het benadruk dat die joernalis nie Morgan is nie.
McCartney, wat tans in Amerika toer, het aan Amerikaanse joernaliste gesê hy sal by sy terugkeer na Brittanje met die polisie vergader omdat hy “klaarblyklik” die slagoffer van meeluistering was.
Morgan het teruggekap na Mills en gesê die regter in die egskeidingsgeding het haar destyds as ’n “onbetroubare getuie” beskryf.
Die beweringe het egter op die internet stukrag gekry in blogs en tweets. Die bekende politieke blogger Paul Staines, wat onder die naam Guido Fawkes skryf, het verwys na ’n rubriek wat Morgan in 2006 vir die Daily Mail geskryf het.
In dié rubriek het Morgan gesê hy het na ’n opname geluister van ’n foonboodskap wat McCartney vir Mills gelos het. “Dit was hartverskeurend. Hulle het duidelik gestry. Paul het haar gesmeek om terug te kom,” het Morgan geskryf. Volgens hom het McCartney “eensaam en desperaat” geklink en selfs gesing We Can Work It Out.
In reaksie op dié onthullings het drie parlementslede nou ’n beroep gedoen op Morgan om “meer lig te werp” op wat hy geweet het.
Dié onthullings beteken dat die ondersoek na die meeluisterskandaal nou wyer sal strek as Rupert Murdoch se News International. Dit is ironies dat Morgan sy loopbaan by News International begin het. Hy was ’n taamlik onbekende rubriekskrywer by The Sun toe hy op 28 redakteur van die nou gestorwe News of the World geword het.
Morgan is later na die Daily Mirror, waar hy in 2000 betrek is by die “City Slickers”-skandaal. Hy is daarvan beskuldig dat hy aandele gekoop het wat net daarna in sy eie koerant aangeprys is. Morgan het dit oorleef, maar is afgedank toe hy onwetend vervalste foto’s gepubliseer het van Britse soldate wat Irakse gevangenes martel.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport