Moordpoging op aktivis in Suid-Korea gefnuik
2011-09-16 10:01
Seoul – ‘n Noord-Koreaanse agent wat beplan het om ‘n uitgesproke anti-Pyongyang-aktivis met ‘n giftige-naaldpunt te vermoor, is in Suid-Korea in hegtenis geneem.
Die geheime agent, wat slegs as An bekendstaan, was in besit van die naald en ander wapens toe die polisie hom in hegtenis geneem het, het die Yonhap-nuusagentskap berig.
Die teiken van die sluipmoord was die aktivis Park Sang-Hak, wat betrokke is by die verspreiding van propaganda-pamflette wat die regime in Noord-Korea kritiseer.
An het na bewering ‘n vergadering met Park gereël, maar die aktivis is deur ‘n anti-spioenasie-agentskap van An se plan in kennis gestel en hy het nie by die vergadering opgedaag nie.
“Op die advies van intelligensie-owerhede vergadering ek nou glad nie meer met vreemdelinge nie,” het Park gesê.
‘n Lid van Suid-Korea se Nasionale Intelligensiediens het gesê die agentskap lewer nie kommentaar oor ondersoeke wat steeds aan die gang is nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP