Moor vir profeet, sê tydskrif
2010-07-11 18:54
Doebai - 'n Artikel in die eerste uitgawe van 'n Al-Kaïda-tydskrif wat in Engels gepubliseer is, en wat na bewering geskryf is deur die Amerikaans gebore Jemeense geestelike Anwar al-Awlaki, het 'n beroep op lesers gedoen om enigiemand wat die profeet Mohammed beledig, tereg te stel.
"Die beste oplossing vir die toenemende veldtog van belediging" van die profeet is "die teregstelling van diegene wat daarby betrokke is," het die artikel gelui. Die teks van die artikel is Sondag deur die Amerikaanse monitordiens SITE bekendgemaak.
Die artikel verwys spesifiek na die Seattle-gebaseerde spotprentkunstenaar Molly Norris, wat grappenderwys voorgestel het dat 20 Mei verander moet word na "Almal Teken Mohammed-dag," ten spyte daarvan dat Islam enige tekeninge van die profeet verbied.
"'n Spotprentkunstenaar van Seattle, Washington, met die naam Molly Norris, het die 'Almal Teken Mohammed-dag' begin," het die artikel gelui.
"Sy behoort gesien te word as die hoofteiken in 'n sluipmoord, tesame met ander wat aan haar veldtog deelgeneem het.
"Die groot hoeveelheid deelnemers maak dit vir ons makliker want daar is baie teikens om uit te kies," het die artikel gelui.
Awlaki, wat tans in Jemen woonagtig is, het verlede jaar in die kollig getree ná dit bekend geword het dat hy per e-pos gekommunikeer het met Majoor Nidal Hasan, 'n sielkundige in die Amerikaanse weermag wat daarvan beskuldig word dat hy op kollegas by Fort
Hood in Texas losgebrand het. 13 mense is in die voorval dood.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP