Monnik steek homself aan die brand
2012-02-09 09:01
Beijing – ‘n Tibettaan het homself in die weste van China aan die brand gesteek en honderde ander het betogings gehou om teen die regering se beleide te betoog, het ‘n nuusberig gesê.
‘n Man, glo ‘n monnik, het hom Woensdag in die Sichuan-provinse se Aba-prefektuur aan die brand gesteek, het Radio Free Asia berig.
Die uitsaaier het berig dat hy deur soldate en die polisie weggeneem is. Sy toestand was onbekend.
Sowat 20 ondersteuners van Tibettaanse regte het hulself in die afgelope jaar aan die brand gesteek.
Volgens die berig het twee betogings in die Qinghai-provinsie uitgebreek, met sowat 1 000 mense wat aan elkeen deelgeneem het ter ondersteuning van die Dalai Lama, die Tibettane se spirituele leier wat in ballingskap geplaas is.
Sekuriteitswagte het die betogers omsingel, maar geen geweld het uitgebreek nie.
Onlangse betogings in Sichuan het die lewe van talle Tibettane geëis.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP