Moltrein-ontploffing: Verdagtes erken skuld
2011-04-13 15:43
Minsk – Verdagtes wat in hegtenis geneem is vir die bomaanvalle in Minsk het erken dat hulle die aanval geloods het, het Belarus se president Alexander Lukashenko Woensdag gesê en aangedring dat opposisie-figure ondervra word.
“Die misdaad is om 05:00 opgelos. KGB-amptenare en die polisie het een dag nodig gehad om die operasie te voltooi en die oortreders vas te trek,” het hy gesê.
Die sekuriteitsdiens word steeds die KGB genoem in Belarus.
“Hulle het vanoggend om 05:00 skuld erken,” het hy op die televisie gesê.
Hy het sy visier op die opposisie, wat oorwinning in die verkiesings van 19 Desember bevraagteken het, gestel. Hy het beveel dat alle kritici wat teen die regering gekant is in verband met die ontploffing ondervra word.
“Alle verklarings wat deur politici gemaak is moet hersien word. Ons is op soek na oortreders en meesterbreine. Hierdie karakters van die sogenoemde “vyfde kolom” kan hul kaarte op die tafel sit en wys wie is die meesterbrein.”
“Arresteer en ondervra, moenie aandag skenk aan enige tipe demokrasie en die geneul en gekla van die patetiese Westerlinge nie,” het hy glo aan die sekuriteitsdeins gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP