Moltrein dood afrigter van Pta-span se seun
2012-06-19 10:30
Die seun van 'n afrigter van 'n Pretoriase krieketspan is dood nadat hy in Londen deur ’n moltrein getref is, berig BBC.
Die 23-jarige Tom Maynard, seun van Matthew Maynard, afrigter van die Nashua Titans, is Maandagoggend dood, berig Beeld.
Die polisiewaghond in Londen oorweeg 'n ondersoek na die dood van Tom, wat vir die graafskap Surrey krieket gespeel het.
Volgens die metropolisie het 'n man heen en weer oor die pad gery, waarna hy gevra is om stil te hou.
"Die manlike bestuurder van die swart Mercedes C250 het weggehardloop en beamptes kon hom nie opspoor nie."
Die man, wat pas by die beskrywing van Tom, se lyk is kort daarna op die treinspoor by die Wimbledon Park-stasie gevind.
Die nooddienste is na die toneel ontbied, maar Tom is op die toneel dood verklaar.
Geen misdaad word vermoed nie.
Surrey het in 'n verklaring gesê: "Sy toekomspotensiaal het geen beperking gehad nie. Kenners van buite en dié in die klub het voorspel dat hy in sy pa se voetspore sal volg".
Richard Thompson, voorsitter van die klub, het die voorval as 'n "uiters sinnelose tragedie" beskryf.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter