'Moenie teen gays diskrimineer' – Clinton
2011-12-07 14:28
Genève – Die Obama-administrasie het die wêreld teen diskriminering teen gays en lesbiërs gewaarsku.
Die administrasie het ook gesê die VSA sal buitelandse hulp en diplomasie gebruik om sy aandrang dat gay regte soos ander basiese menseregte is, te verdedig.
Hillary Rodham Clinton, minister van buitelandse sake, het gesê die stryd vir gay gelykheid is dieselfde as die stryd om vroueregte en rassegelykheid te bewerkstellig.
Sy het bygevoeg dat ‘n land se kulturele of godsdienstige tradisies geen verskoning vir diskriminasie is nie.
“Gay regte is menseregte en menseregte is gay regte,” het sy gesê.
Clinton se gehoor het diplomate van Arabiese en Afrika-nasies ingesluit, waar homoseksualiteit steeds gekriminaliseer word of waar diskriminasie teen gay mense verdra of aangemoedig word.
Sy het haar toespraak kort ná pres. Barack Obama s’n gelewer. Die president het die departement van buitelandse sake en ander agentskappe gemaan om te verseker dat die VSA se diplomasie en buitelandse ondersteuning gay regte bevorder.
Clinton het nie lande genoem wat swak teenoor gays optree nie, maar die VSA het reeds uitgewys dat bondgenote soos Saoedi-Arabië negatief oor homoseksualiteit is.
“Dit behoort nie ‘n misdaad te wees om gay te wees nie,” het Clinton gesê.
Die Obama-administrasie het reeds beginsels van gelykheid wat Clinton verwoord het, ondersteun.
Die toespraak in Genève – tuiste van die Verenigde Nasies se menseregte-afdeling – is ook deel van die Obama-administrasie se uitreiking na gays en lesbiërs.
Obama het reeds in sy ampstermyn die omstrede wet “Don’t Ask, Don’t Tell” herroep. Kragtens dié wet mag gay mense slegs in die weermag dien as hulle hul seksualiteit geheim hou en die weermag nie daarvan uitvind nie.
“Gay mense behoort aan elke samelewing in die wêreld...” het Clinton gesê.
“Om gay te wees is nie ‘n Westerse uitvindsel nie. Dis ‘n menslike realiteit.”
Volg Nuus24 op Twitter
- AP