Misdadigers verkrag Haïti-slagoffers
2010-01-29 05:53
Port-au-Prince – Misdadigers in Haïti het begin toesak op die kwesbare slagoffers van die aardbewing en selfs vroue begin verkrag, het die land se polisiehoof Donderdag gesê.
“Misdadigers het begin om vroue en meisies aan te rand en onder die tente te verkrag,” het die nasionale polisiehoof Mario Andresol gesê,
“Ons het meer as 7 000 gevangenes in die strate wat die aand van die aardbewing uit die tronk ontsnap het. Dit het ons vyf jaar geneem om hulle vas te trek, nou hardloop hulle vry rond.”
Misdaad-syfers was nog nie bekend nie, maar vroue-organisasies was klaar bewus van talle voorvalle en die Verenigde Nasies is reeds ingelig, het Andresol gesê.
Volgens hom het die polisiediens uit sowat 8 000 lede bestaan, maar talle is nou dood of nog vermis. Baie van die oorlewende amptenare is getraumatiseer.
“Ons het 70 polisie amptenare verloor, bykans 500 is steeds vermis en 400 is beseer,” het hy gesê.
- Sapa-AFP