Filippyne: Meer as 70 dalk lewend begrawe
2012-02-09 14:00
Manila – Reddingswerkers in die Filippyne het na minstens 71 mense gesoek wat moontlik in grondverskuiwings ná 'n aardbewing omgekom het.
Dertig sterftes is reeds bevestig ná Maandag se 6,9-sterkte-aardbewing, met meer as die helfte van die slagoffers wat in grondverskuiwings begrawe is.
Die soektog na 29 vermiste mense in Planas in Guihulngan-stad, 570 km suid van Manila, is Donderdag afgelas as gevolg van swaar reën en vrese dat die res van die berg inmekaar sal sak.
“Dit is slegs tydelik, want dit is gevaarlik vir ons reddingswerkers,” het Benito Ramos, hoof van burgerlike verdediging, gesê.
Swaar toerusting is in die nabygeleë dorp La Libertad gebruik om deur meer as drie meter grond in die dorpie Solonggon te grawe, het kapt. Anacito Naz gesê.
Altesaam 42 mense word hier vermis.
Reddingswerkers het tot dusver slegs een lyk en dierekarkasse gevind, het hy gesê.
In Jimalalud het reddingswerkers vier lyke gevind wat in ‘n ander grondverskuiwing begrawe is, wat die amptelike dodetal ná die aardbewing op 30 te staan bring, het Ramos gesê.
“Dit was ‘n klein grondverskuiwing waarvan ons nou eers gehoor het,” het hy gesê.
“Niemand is as vermis aangemeld in hierdie grondverskuiwing nie, maar ons wil dit eers bevestig.”
Ramos het vrese uitgespreek dat die kanse om oorlewendes te vind, skraal is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA