Minstens 7 sterf in hernude geweld in Jemen
2011-11-02 14:16
Sanaa – Minstens sewe mense is in twee Jemenitiese stede dood nadat geweld weer in die land opgevlam het, het paramedici en aktiviste Woensdag gesê.
Dit kom ná ‘n kort periode van kalmte.
Gevegte het vroeg Woensdag in Taez uitgebreek tussen regeringsmagte en stamlede wat ‘n beweging ondersteun wat versoek dat president Ali Abdullah Saleh moet uittree.
Minstens vier mense is dood, insluitende twee gewapende mans, een burgerlike en ‘n 13-jarige seun. Altesaam 12 ander is beseer in die geweld, het mediese beamptes gesê.
Volgens inwoners het troepe wat aan Saleh se kant veg, woonbuurte in Taez met swaar wapens, insluitende mortiere, geteiken en skade aan talle geboue aangerig.
Drie mense is Dinsdagaand dood toe geweld in Sanaa se Hasaba-streek uitgebreek het, het mediese beamptes en die ministerie van binnelandse sake gesê.
Minstens sewe ander is in die gebied beseer.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP