Minstens 53 sterf in aanval op casino
2011-08-26 11:01
Mexiko-stad – Minstens 53 mense is dood in ‘n brandstigtingsaanval op ‘n casino in Monterrey, Mexiko, wat in ‘n massiewe brand ontaard het, het die goewerneur van die staat Nuevo Leon gesê.
Monterrey is ‘n industriële stad in die noorde van Mexiko.
Rodrigo Medina, goewerneur van die staat, het die dodetal in ‘n onderhoud met die netwerk Televisa bekendgemaak.
Hy het bygevoeg dat ‘n vlambare vloeistof “soos petrol” gebruik is om die Casino Royale aan die brand te steek.
Pres. Felipe Calderon het die aanval veroordeel en dit ‘n “gruwelike en barbaarse” terreurdaad op Twitter genoem.
Plaaslike media berig casino’s in Monterrey is onlangs geteiken aangesien sekere eienaars geweier het om beskermingsgeld te betaal wat deur kriminele bendes vereis word. Dié bendes word aan die land se dwelmhandel gekoppel.
Volgens Medina is die aanval deur ses mans uitgevoer. Die verdagtes het Donderdag omstreeks 23:00 (SA tyd) in twee voertuie by die casino opgedaag.
Die mans het by die casino ingestap en geskree dat almal op die vloer moet gaan lê, het ‘n ooggetuie aan die Mexikaanse media gesê.
Die ooggetuie, wat saam met ‘n vriend na die dak gehardloop het om die vlamme te vermy, sê daar was ‘n reuse ontploffing.
Jorge Camacho, hoof van die staat se burgerbeskerming, sê die dodetal is so hoog omdat talle mense nie die nooduitgange gebruik het nie en eerder in badkamers en kantore gaan wegkruip toe hulle die ontploffing gehoor het.
Dit het brandbestryders vier ure geneem om die vlamme onder beheer te bring.
Medina het gewaarsku dat die sterftesyfer moontlik sal toeneem.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP