Minstens 16 dood in rits ontploffings in Irak
2013-01-22 16:21
Bagdad – ‘n Rits motorbomme in en om Bagdad het Dinsdag die lewens van minstens 16 mense geëis en tientalle ander beseer, het mediese- en sekuriteitsbeamptes gesê.
Die ontploffings het by ‘n Irakese weermag-soekpunt suid van Bagdad, ‘n militêre basis noord van die hoofstad en in ‘n woonbuurt in die noorde van Bagdad plaasgevind, het beamptes gesê.
In die ergste aanval is ses mense dood toe ‘n motorbom naby ‘n weermagkamp in die doro Taji, 25 km noord van Bagdad, ontplof het, het ‘n weermag- en mediese beampte gesê.
Minstens 20 ander mense is beseer.
Minstens vyf mense is dood en 14 ander is gewond toe ‘n motorbom in Mahmudiyah, suid van die hoofstad, ontplof het.
‘n Motorbom wat naby ‘n mark in die noordelike woonbuurt van Shuala ontplof het, het die lewens van vyf mense geëis en 12 ander gewond.
Geen groep het verantwoordelikheid vir die aanvalle aanvaar nie, maar Sunni-militante voer gereeld aanvalle uit in ‘n poging om die regering omver te werp.
Dinsdag se geweld kom ná vier dae van relatiewe kalmte in Irak.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP