Minstens 12 dood aan alkoholvergiftiging
2012-09-12 14:40
Praag – Altesaam 12 mense is dood en 21 is in die Tsjeggiese Republiek weens vergiftiging gehospitaliseer nadat hulle gesmokkelde drank wat glo met metanol besmet is, gedrink het, het die polisie Woensdag gesê.
“Om 12:30 (10:30 GMT) vandag (Woensdag) het ons 12 mense gehad wat gesterf het, nege van hulle is met metanol vergiftig,” het Stepanka Zatloukalova, woordvoerder van die Tsjeggiese polisie se hoofkantoor, gesê.
“Ons wag vir die uitslae van ‘n nadoodse ondersoek op die ander drie. Altesaam 24 mense is in die hospitaal, maar die getal verander vinnig, want ons ontvang die heeltyd nuwe inligting,” het sy bygevoeg.
Verskeie van dié wat in die hospitaal is, is in geïnduseerde komas geplaas en is in ‘n kritieke toestand, terwyl ander blind geword het, het mediaberigte gelui.
Dele in die ooste van die land is die hardste getref deur wat kenners meen die ergste golf van alkoholvergiftiging in drie dekades is.
Die eerste twee sterftes is verlede Donderdag aangemeld en verskeie gevalle is naby Praag aangemeld.
Die polisie het Sondag ‘n 36-jarige man in verband met die vergiftigings aangekla.
‘n Ander man, wat gesmokkelde alkohol versprei het, is in die suidoostelike stad Zlin in hegtenis geneem.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP