Minder stemlokale vir Afganistan
2009-08-13 18:33
Kaboel- Sowat 10% van die stemlokale in Afganistan moet moontlik gesluit word weens veiligheidsredes.
Dit kom nadat 14 persone reeds vermoor is kort voor dié geskiedkundige verkiesing.
‘n Donkerwolk hang nou oor die verkiesing wat op 20 Augustus sal plaasvind nadat die Taliban gedreig het dat hulle alles in hulle vermoëns sal doen om te verhoed dat dit plaasvind.
Volgens verkiesingsbeamptes kan die toename in geweld daartoe bydra dat honderde van die beplande stemlokale nie gebruik sal word nie.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (IEC) meen dat slegs 6200 van die beplande 7000 lokale gebruik sal word.
Tydens die verkiesing in 2005 is daar van sowat 6200 stemlokale gebruik gemaak.
Twee bomontploffings het Woensdag 14 mense van Afganistan se lewens geëis. In een van die ontploffings is drie kinders wat in Kandahar gespeel het dood, het polisie gesê.
–Sapa