Min tyd vir wonderwerke in Haïti oor
2010-01-21 08:55
Erika Gibson en Felix Dlangamandla
Port-au-Prince - Suid-Afrikaanse reddingspanne het al 30 oorlewendes uit die puin van Haïti gehaal.
Die tyd vir wonderwerke raak egter nou min – agt dae ná die aanvanklike aardbewing wat die land in ’n menslike treurspel omskep het, het nog ’n aardbewing van 6,1 op die Richterskaal die gebied getref.
Op die strate van Port-au-Prince, die hoofstad, is ellende en chaos.
“Die situasie ruk nou handuit,” het Felix Dlangamandla, Beeld se spesialis-fotograaf, Woensdagoggend gesê.
Hy was op die toneel waar die polisie twee skote in die lug geskiet het om ’n groep plunderaars uiteen te jaag.
Die 15-jarige Chelisma Fabiena het gesterf nadat sy in die kop getref is.
Dlangamandla het die toneel vasgevang in die foto hiernaas.
Chelisma se huilende pa en ander familielede het haar lyk huis toe gedra.
“Dit is verskriklik om haar familie se pyn te aanskou,” het Dlangamandla gesê.
Suid-Afrikaanse rampnoodspanne het vyf oorlewendes van die aardbewing wat Haïti verlede Dinsdag getref het, uit die puin van ’n hospitaal in Port-au-Prince gered.
Dr. Imtiaz Sooliman, voorsitter van Gift of the Givers wat die rampspanne na Haïti gestuur het, het Woensdag
gesê dit het dié span bykans drie uur geneem om by die eerste slagoffer, ’n 60-jarige vrou, uit te kom.
Dié hospitaal is een van talle wat vernietig is in die aardbewing van 7 op die Richterskaal geregistreer het.
Sooliman het gesê die Suid-Afrikaners het reeds 30 oorlewendes uit die puin gehaal.
Die tweede rampspan van dié organisasie is op pad na Haïti.
Hulle glo egter dit sal ’n wonderwerk wees as hulle ná langer as ’n week nog lewendes vind.
“Daar is altyd die moontlikheid van oorlewing.
“As daar nie was nie, is ons in die verkeerde bedryf. Ons gee nooit op nie,” het mnr. Charlie McClung, een van die lede, gesê.
“Die odds is egter teen die vasgekeerdes.
“Ons eerste prioriteit gaan wees om veral in gebiede te begin werk waar daar nog min werk deur die ander internasionale spanne gedoen kon word.”
Sageshin Naguran, leier van die reddingspan, het Woensdag gesê hul veronderstelling is dat indien iemand onder die “ideale” omstandighede onder puin vasgekeer is en toegang het tot kos of water, kan hulle gered word.
Naguran, McClung en nog drie rampwerkers is lektore en instrukteurs by die Durban-Universiteit vir Tegnologie, waar hulle gewoonlik soek-en-reddingswerkers oplei.
Saam met hulle is ook ’n groep dokters van Johannesburg, Durban en Kaapstad wat hoop om te kan help waar daar ook al ’n behoefte aan hul vaardighede sal wees.
Al die dokters is opgelei in noodgeneeskunde.
Volgens McClung sal die span inskakel waar die grootste waarskynlikheid van oorlewendes steeds is.
So ’n situasie sal wees waar ’n gebou in ’n V- of ’n A-vorm inmekaargestort en mense in ’n vakuum sou kon skuil.
“Dit is gewoonlik deurrame of swaar toestelle soos ’n yskas wat ’n muur sou kon stuit.”
Dr. Ebrahim Khan, ’n traumadokter van Durban, lei die mediese span.
“Toe die oproep om dokters deurkom, het ek nie geskroom om in te val nie.
“Dit is ’n ongelooflike kans in ’n mens se lewe om onder die haglikste omstandighede denkbaar hulp te verleen,” het Khan gesê.
–Beeld