Mexiko: Weermag red vier ontvoerde slagoffers
2012-01-19 09:01
Mexiko Stad – Die Mexikaanse weermag het vier ontvoerde slagoffers gered en 14 verdagtes in verband met die voorval in Cuernavaca-stad in hegtenis geneem, het die minister van verdediging Woensdag gesê.
Drie van die slagoffers was jonger as 18 jaar oud. Volgens gerugte was hulle met kettings vasgebind toe hulle in Temixco gevind is.
Volgens die minister is ‘n lyk ook op die toneel gevind waar dit half begrawe was. Geen verdere inligting is egter daaroor gegee nie. Volgens die media is slegs die boonste gedeelte van ‘n man sy lyf gevind.
Die owerhede het ook beslag gelê op 15 kg dagga, 500 g kokaïen en talle wapens en gesteelde voertuie.
In die afgelope vyf jaar is meer as 45 000 mense in voorvalle wat met georganiseerde misdaad verbind word, vermoor.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA