Mexiko: Ontploffing ruk kantoorgebou; 20 dood
2013-02-01 07:41
Mexikostad – Minstens 25 mense is dood en meer as 100 beseer toe 'n ontploffing Donderdag die hoofkwartier van die Mexikaanse oliereus Pemex in Mexikostad geruk het.
Baie mense is steeds in die puin vasgekeer.
Die ontploffing, wat in die middag plaasgevind het, het die laer vloere van die wolkekrabber in die middestad heeltemal vernietig. Angsbevange werkers het ná die ontploffing uit die gebou gestroom.
'n Regeringsamptenaar wat nie sy identiteit bekend wou maak nie, het gesê 'n voorlopige ondersoek het getoon dat 'n gastenk ontplof het. 'n Amptelike ondersoek oor die oorsaak moet egter nog voltooi word, het hy gesê.
Miguel Angel Osorio Chong, minister van binnelandse sake, het bevestig dat minstens 25 mense dood is. Hy het ook gesê sowat 100 mense is beseer, en dat talle nog in die gebou vasgekeer is.
"Jy kon dit deur die hele gebou voel," het Mario Guzman, 'n Pemex-werknemer, gesê. Hy was op die gebou se tiende vloer toe die ontploffing plaasgevind het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters