Mexiko: 24 sterf in dwelmgeweld
2011-11-24 11:10
Culiacan, Mexiko – Altesaam 24 mense is dood en 17 van die slagoffers se verbrande lyke is in twee bakkies gevind ná aanvalle in Culiacan, die tuisstaat van Mexiko se mees gewelddadige dwelmkartel, het amptenare Woensdag gesê.
Amptenare ondersoek of die aanvalle verbind kan word met onlangse voorvalle in die staat Sinaloa.
Inwoners het die polisie gekontak nadat hulle vroeg Woensdag in die Antonio Rosales-woonbuurt in Culiacan gesien het hoe ‘n bakkie brand, het Marco Antonio Higuera Gomez, die staat se prokureur-generaal, gesê.
Speurders het 12 lyke agter in die bakkie gevind. Sommige van hulle se hande is vasgebind en hulle het koeëlvaste baadjies aangehad, het Higuera gesê.
Amptenare probeer vasstel of sommige van die slagoffers deel is van ‘n groep van nege mense, insluitende drie polisiebeamptes, wat Maandag in Angostura ontvoer is.
Kort nadat die brand aangemeld is, het amptenare nog ‘n oproep ontvang van ‘n voertuig wat agter ‘n winkel brand. Die polisie het vier lyke in daardie voertuig gevind.
Al die slagoffers is geskiet.
Mexiko se departement van binnelandse sake het in ‘n verklaring gesê hulle “veroordeel” die moorde en het die hoeveelheid slagoffers wat in die voertuie gevind is op 17 bevestig.
In Sinaloa is vier mans ook Woensdag in die dorp Mocorito geskiet en drie is in die dorp Guamuchil doodgemaak, het Higuera gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AP