Menslike fout dalk rede vir vliegramp
2010-05-25 10:00
Mangalore – ’n Menslike fout kon gelei het tot die Air India-vliegramp waarin 158 mense die naweek dood is, het die Indiese minister van lugvaart gister gesê.
Die weerstoestande en ander faktore toe die vliegtuig sy bestemming genader het, “was absoluut normaal,” het Praful Patel aan die televisiekanaal CNN-IBN gesê.
“Die faktor van ’n menslike fout kan nie uitgesluit word nie.”
Hy het gesê slegs ’n ondersoek sal kan vasstel wat daartoe gelei het dat die vliegtuig die aanloopbaan Saterdag hier verbygeskiet en in ’n ravyn neergestort het. Dit het in die buitewyke van Mangalore gebeur.
Altesaam 146 van 158 lyke is reeds geïdentifiseer. Agt mense het oorleef. Dit is die grootse vliegramp in Indië in meer as ’n dekade.
Die vlugopnemer is gevind en sal na Nieu-Delhi gestuur word vir verdere ondersoeke, het amptenare gesê.
Vier Amerikaanse forensiese deskundiges het in die land aangekom om met die ondersoek te help.
– Sapa-AP