Mensehandelaar kan 35 jaar sit
2009-08-21 10:48
Kuala Lumpur – ‘n Man van Kuala Lumpur kan tot 35 jaar tronkstraf kry op aanklagte van mensehandel.
Sahaidi Salleh het skuldig gepleit op aanklagte van mensehandel nadat hy 12 mense, insluitende drie kinders, van Mianmar na Maleisië gesmokkel het.
‘n Onlangse verslag uit die VSA berig Maleisië is een van die grootste oortreders ter wêreld in mensehandel.
Volgens Mohamad Zaidi Che Morad, ‘n immigrasie amptenaar in die noordelike staat Kelantan, het Sahaidi se twee seuns, onderskeidelik 19 en 21, onskuldig gepleit. Die seuns, sowel as die gesin se huishulp, sal na verwagting apart verhoor word.
Kinderhandelaars in Maleisië kan met tussen drie en 20 jaar gestraf word. Oortreders wat met volwassenes smokkel kan ‘n maksimum van 15 jaar tronkstraf opgelê word. Die land se regters besluit self of die vonnisse gesamentlik of opeenvolgend uitgedien moet word.
-AP